‘N NALATENSKAP-PROJEK
“I’ve given myself to the world. I’m not working for myself ”
– Hugh Masekela


Oor Ons
Strauss & Sons Inc.™
Strauss Odendaal is in 1970 in Durban, Natal, gebore. Op sesjarige ouderdom verhuis sy ouers na Pretoria waar hy in 1988 aan die Hoërskool Waterkloof matrikuleer waar hy ook hoofseun was. Hy het met ‘n ontsaglike liefde vir die grond en die grootmaak van diere, grootgeword en het van kleintyd af met hoenders en voëls geboer.
Gedurende 1988 neem hy deel aan die Nasionale Jong Winsmaker van die Jaar-kompetisie en behaal hy ‘n tweede plek.
Strauss kom uit ‘n familie van boere wat in die Oos-Vrystaat geboer het. Hy het menige vakansies by sy oupa deurgebring en in die Vrystaat Koöperasie- en BKB-winkels en -store rondgedrentel en op die voersakke gespeel. Later het sy oupa al sy boerderybelange en meule verkoop en die droom van boer het daarmee eers vervaag.
Strauss voltooi sy lugmagopleiding in 1991. Hierna is hy na die Universiteit van Pretoria en verwerf sy B.Com-graad in 1994. Hy begin sy loopbaan in 1995 in die Oos-Vrystaat as rekenmeester vir ‘n bekende nasionale meulenaarsgroep. Hier het hy vertroud geraak met die bestuur van ‘n meule, die aankope van mielies vanaf die boere en die uiteindelike lewering van mieliemeel aan die gemeenskap.
Ná etlike jare is hy weg by die meulenaarsgroep en het hy ‘n loopbaan in Johannesburg in die IT- en farmaseutiese bedryf begin waar hy die volgende20 jaar in verskeie direkteursposte gedien het en ook sy MBA-graad behaal. Gedurende hierdie tyd is hy getroud met die liefde van sy lewe, Lize, en twee seuns is uit die huwelik gebore – Estian-Strauss en Emje-Strauss. In hierdie 20 jaar kom hy tot die besef van die ongelooflike potensiaal van die digitale wêreld en sagteware-toepassings.
En so begin ‘n nuwe droom gestalte aanneem en ontstaan … Hartskamer™.
Gedurende die Covid-pandemie en al die uitdagings wat daarmee saamgaan, neem Strauss ‘n geloofsbesluit om aan ‘n nalatenskap te werk wat waarde kan toevoeg vir stedelinge, vanaf die entrepreneur op die platteland tot die boer op sy trekker. Met Hartskamer wil hy ‘n veilige omgewing skep waarin mense kan begeer, droom, meeleef en koop.
Strauss kry in hierdie tyd weer eens bevestiging dat hy ‘n verskil kan maak toe hy hom een Saterdagmiddag voor die vleisrakke van ‘n bekende supermark bevind en die astronomiese pryse vir sommige vleissnitte sien … Hieruit is Plaas-tot-Bord™ gebore.
Strauss wil aan stedelinge die geleentheid gee om direk by die boer te koop, om die boer se storie te hoor en te lees. Hy wil stedelinge ‘n geleentheid gee om hoëgehalte-vleis uit die gemak van hul huis aan te koop en by hul voordeur te ontvang.
Op een van sy vele reise deur die platteland stop hy by die Karoo-padstal buite Richmond en sien die ongelooflike talent en oorspronklikheid waaroor kunstenaars en vervaardigers in hierdie afgeleë gebiede beskik. Dít terwyl daar min tot weinige afset behalwe vir die enkele besoekers aan die padstal of dorpswinkel is.
Hy besef dat hy ‘n groot rol kan speel om ook die tuisprodukte en kunswerke van die platteland na die stede te bring deur ‘n digitale, aanlyn platform.
Sy doel is om elkeen van die kunstenaars en vervaardigers van outentieke tuisprodukte in kontak te bring met stedelinge en mense in ander omgewings. Hy wil die gevoel skep dat elke persoon wat hierdie platform besoek, produkte van ‘n Hartsmens koop … Hieruit is My Hartsmense™ gebore.
Hartskamer™, Plaas-tot-Bord™ en My Hartsmense™ word honderd persent deur Strauss & Sons Legacy Projects besit.

STRAUSS & SONS INC™ – PROJEKTE
STRAUSS & SONS INC™ INVESTMENTS
Strauss & Sons Inc™ Investments is die investerings- en beleggingsarm van Hartskamer wat die besighede befonds en die daaglikse administratiewe funksies behartig.
ONDERSKRYWENDE BEGINSELS
Strauss & Sons Inc™ doen besigheid met die volgende riglyne as maatstaf:
OUTENTIEK
Ons produkte op ons platform moet oorspronklik en eg wees.
INTEGRITEIT
Integriteit is eerlikheid, deursigtigheid en geregtigheid. Integriteit is om te weet wát die regte ding is om te doen en dit te doen. Kom ons maak dit prakties. Jy koop iets by ‘n winkel en hulle gee jou te veel kleingeld. Jy sien hoe dit gebeur. Bly jy stil, loop weg en is tog te dankbaar oor die gelukkie wat jou getref het? Of gee jy die geld terug? Integriteit is wanneer jou karakter na vore kom selfs daar waar niemand jou sien nie.
VOLHOUBAARHEID
Wat die natuur betref, beteken dit dat ons sensitief moet wees vir die ekologiese voetspoor wat ons aktiwiteite en fasiliteite op die omgewing laat. Volhoubaarheid beteken ook dat die impak van aktiwiteite op mense, die samelewing en die ekonomie in ag geneem moet word.
ERKENNING
Ons wil graag alle persone op ons platform kan gelukwens met hul prestasies en ook ons dankbaarheid betoon teenoor dié wat ons ondersteun.
BEWARING VAN ONS ERFENIS
In Suid-Afrika is bewaring van ons erfenis letterlik deel van ons geskiedenis. Bewaring van ons natuurlike erfenis is dus so ‘n deel van die hedendaagse Suid-Afrikaner soos braaivleis en potjiekos. Ons moet waak teen die negatiewe impak wat die verlies van ons inheemse natuurskatte op ons erfenis sal hê.
VERANDERING
Ons wil graag pioniers skep en ondersteun. Ons wil aan mense met nuwe idees enprodukte blootstelling gee.
VERSOENING
Dis tog menslik dat almal foute maak of dat ‘n produk soms nie aan die verwagtinge voldoen nie. Ons wil ‘n ruimte skep om dit te kan regmaak en die verhouding met ons aanlyn gemeenskap te herstel.
Kontak Ons
“What counts in life is not the mere fact that we have lived. It is what difference we have made to the lives of others that will determine the significance of the life we lead”